Ongeveer ‘n jaar terug was dit tyd vir die bejaarde tannie oorkant die pad om te trek. Ekt haar nooit geken nie, net gesien hoe sy krom skuifel-skuifel tussen haar verhoute lavender in haar voortuin. ‘n Jonger vrou langs haar wat elke skuifie ondersteun.
Na haar vertrek was die groot ou huis pikstikdonker snags en tjoepstil bedags.
‘n Blink swart kar het gereeld daarlangs gekom, manne met brille en donker broekpakke. Direk daarna is die tannie se laaste goedjies op die randsteen gesit met die allerbekende ‘zu verschenken’ nota daarby. ‘n Kaktus en ‘n clivia so half eekant in die son.
Natuurlik is die twee wegwerpsels verwelkom met ‘n goeie sluk water en ‘n afstof. Effense inspeksie bevestig dat die nuutste kaktus op ons rak ‘n sogenaamde “Easter Cactus” is, met ‘n duidelike goeie paar jare op haar klok. Sy verskil éffens van haar geselskap, die twee “Christmas Cacti” in blaarvorm en blomtyd maar die verskil is eintlik so klein dat ek oortuig is daarvan my eie ouma sou beide sommer ‘lidroos’ genoem het.
Nouja, na ‘n jaar se geselskap in ‘n tipiese Suid Afrikaanse kombuis, ‘n nuwe pot, vars grond, ‘n skeut water elke week en natuurlik baie liefde het sy uiteindelik haar preets afgegooi en begin blom!! Die allermooiste helder pienk bloeisels wat soggens oopgaan en saam met die son gaan slaap.
‘n Welkome nuwe lid van ons gesin!
